Ontmoet
die Gereformeerde Kerk Pinetown!
Dit is ‘n groot voorreg om deel van die wêreldwye kerk van Jesus Christus te
wees! As kerk van die Here is ons deur sy bloed verlos en gereinig.
Hy het ons deur sy Heilige Gees geroep en toegerus om saam te werk aan
die deurbreek van sy koninkryk in hierdie wêreld. Hier, in die
Gereformeerde Kerk Pinetown, is ons daartoe verbind om in alle opsigte
die sigbare, hoorbare en voelbare liggaam van Christus te wees -
sý hande en voete en mond in ‘n wêreld wat Hom nie ken nie.
In gehoorsaamheid aan sy opdrag in Matteus 5:14 - "Julle is die lig
vir die wêreld" - het ons vir onsself die volgende doel gestel:
Ons wil ‘n baken van hoop wees in ‘n donker wêreld
Om hierdie doel konkreet te bereik, weet ons dat ons veral die nood van
ons omgewing vierkantig in die oë sal moet kyk. Dinge soos armoede,
werkloosheid, misdaad, geweld, siekte, gesinsverbrokkeling en huweliksnood,
asook die diep sielkundige impak wat ‘n veranderde samelewing op mense maak,
staan by ons in die fokus van ons bediening. As gemeente is ons daartoe
verbind om met groot deernis, in die Naam van Jesus Christus, ons eie
geloofsgemeenskap te versorg. Ons steek ook ons hande uit na die breër
gemeenskap om te help waar ons kan.
|
Ds. Fritz Krüger, met sy vrou Jansie, en Anja
|
Daarvoor ondersoek ons heel eerste die Woord van God met groot erns, omdat
ons glo dat die Bybel die absoluut betroubare Woord van God is. Die Bybel
is die lig op ons donker pad wat hoop gee, rigting aandui en lewens
heelmaak. Die hele Woord fokus op Jesus Christus as ons gekruisigde en
opgestane Here. Hy het verlossing bewerk vir elke sondaar wat in Hom glo,
en roep ons tot ryk lewensgemeenskap met Hom met die belofte van rus vir
ons moeë harte!
As gemeente is ons daartoe verbind om elkeen wat op ons pad kom,
onvoorwaardelik en sonder veroordeling te aanvaar. Ons wil saamwerk om
elkeen se gebrokenheid met die Woord en in die Naam van Jesus Christus
te probeer heelmaak, en dan saam met elkeen die pad van ‘n heel en
diensbare lewe te stap.
Ons is ‘n klein, jong en aktiewe gemeente vol lewenskrag! Omdat ons
klein is, kan ons onder mekaar regtig die gesinsband van die huisgesin
van God handhaaf: hier kan jy nie wegraak in ‘n groot massa nie!
Waar kom ons vandaan?
Die Gereformeerde Kerk Pinetown bestaan seders 1986 in die Highway-gebied,
en is ‘n selfstandige plaaslike kerk wat deel uitmaak van die Gereformeerde
Kerke in Suid-Afrika (GKSA).
Saam met ander gereformeerde kerke wêreldwyd staan ons in die tradisie van
die Reformasie. Ons lê daarom in ons bediening en in die lewe van ons
gemeente klem op die volgende vyf hoofpunte:
- Jesus Christus staan sentraal in alles wat ons sê en doen, omdat
Hy die enigste Middelaar tussen God en mense is - Hy is die Weg, die
Waarheid en die Lewe
- ons glo dat mense slegs deur die genade van God verlos word,
en nie deur enigiets wat ons voor Hom kan verdien nie
- geloof in Jesus Christus as Saligmaker is die enigste weg
waarlangs God mense verlos
- ons glo dat die Bybel as die Woord van God absolute gesag in ons
lewens en in ons kerk het, en dat geen menslike geskrifte of tradisies
gelyk kan wees daarmee nie, omdat die Bybel ons alles leer wat ons
nodig het om salig te word en God te dien
- ons glo dat die hoogste doel van ons lewe as mense die eer van God
is - daarom wil ons met mekaar ‘n radikaal God-gesentreerde lewe lei.
Ons eredienste volg ‘n dinamiese liturgiese patroon wat ryk is aan
inhoud, sonder om styf en koud te wees. Op grond van Bybelse beginsels
aanbid ons die Here deur
- Hom met lofprysing te ontmoet
- ons sondeskuld voor Hom te bely en van Hom vryspraak en genade te ontvang
- te luister hoe ons groot en heerlike God in sy Woord met ons praat
- Hom in sang, gebed en liefdesgawes te antwoord.
Saam met die historiese Christelik kerk wêreldwyd aanvaar ons as geloofsbelydenis -
- die Apostoliese Geloofsbelydenis
- die Geloofsbelydenis van Nicea
- die geloofsbelydenis van Athanasius
Saam met ander gereformeerde kerke aanvaar ons as geloofsbelydenis -
- die Heidelbergse Kategismus
- die Nederlandse Geloofsbelydenis
- die Dordtse Leerreëls.
|